Dié vraag kom by ʼn mens op nadat Netwerk24 berig het dat belastingbetalers nagenoeg R100 miljoen in hierdie boekjaar gaan opdok vir die huur van ’n nuwe presidensiële straler vir pres. Jacob Zuma.

Dit is net drie dae nadat die Tesourie op Vrydag, 9 September, ʼn staatswaarborg van R5 miljard aan die SAA toegestaan het, hoewel dit onder streng voorwaardes is.

Iets moet verskriklik lekker daaraan wees om só te vlieg, en om selfs ʼn sukkelende lugdiens aan die gang te hou. Is dit selfs lekkerder as om te eet, wil ʼn mens vra?

Jare gelede, toe mnr. Hendrik Schoeman die Minister van Vervoer was, het ʼn LP in die Parlement gekla oor die kos wat op SAL-vlugte bedien is. Waarop die spitsvondige Schoeman gevra het: “Wil jy vreet of wil jy vlieg?”

Suid-Afrika se boere sou sekerlik daardie vraag vandag in die Parlement wou vra, want die Regering het feitlik geen hulp aan kommersiële boere in die huidige droogte toegestaan nie. Meer as R1 miljard is wel as droogtehulp bewillig, maar dit was hoofsaaklik vir boorgate, kos en dies meer vir sukkelende gemeenskappe, wat reg is.

As my syfers reg is, het die Regering R300 miljoen vir veevoer vir kommersiële boere bewillig. Wat die land se kosmandjie moet vol hou.

Wat het die ouens wat só in die vliegtuie rondvlieg, wat boere nie het nie om hierdie soort van geld te kan kry?


Kommentaar

Kommentaar (4) “Gevleuelde woorde: ‘Wil jy vreet of wil jy vlieg?’

  1. Kobus Laubscher
    Kobus Laubscher

    Die geleentheidskoste van die R100 mil is enorm. Dit sou die beste belegging wees in die stryd teen armoede, want as dit boere sou toeval, sou hulle weet hoe om daarmee te woeker. Die vraag is dus eenvoudig, watter waarde word toegevoeg en as die SAA goed genoeg geag word om verdere waarborge te verdien, behoort een van die middele toetse te wees om die land se president te kan rondvlieg. Die huur van vliegtuie teen die kostes soos berig is die beste bewys van vlieg hoër as wat jou vlerke kan dra. Die boere van die land verdien eerder die R5 miljard waarborg en sou baie meer daarmee kon maak. Dit sou nie moedswillig wees om te wonder of die jongste waarborg in elk geval onverrigter sake sal uitloop nie.

  2. Maarten Kruger
    Maarten Kruger

    Jan, Sy naam is Jacob Zuma.
    En as jy hom vra oor die geld gaan hy dit ontken of iemand anders die skuld gee vir die onkostes.
    Hy het net lekker gevlieg.
    Hy het nie daarvoor gevra nie.
    Mens kyk mos nie ‘n gegewe perd in die bek nie.

  3. butch
    butch

    en nou weer R300 Miljoen vir n nuwe ???!!!

  4. Maarten Kruger
    Maarten Kruger

    Butch, die somme lyk vir my nie reg nie.
    R300 om een te koop.
    R100 om een te huur.
    Hou ‘n straler dan net 3 jaar.
    Lyk vir my da ‘n situasie van kom ons huur ‘n vliegtuig.
    R50 vir my en R50 vir jou….


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.