Elvis Presley sou vandag sy 80ste verjaardag gevier het (8 Januarie). Toe ek dié berig vanoggend lees, het ek gedink aan die heerlike storie uit Namibië, waar Elvis ‘n klompie partytjiegangers deurnag vermaak het.

Die storie word vertel dat ʹn boeregemeenskap, iewers in die suide van die destydse Suidwes-Afrika, hul jaarlikse byeenkoms met ʹn braai en dans sou vier. In daardie dae was die opwen-platespelers nog hoogmode (seker maar die enigste – dink maar aan prentjies van His Master’s Voice) en almal het hul 78-plate saamgebring. Vir die oningeligte: Dié plate was vóór die tyd van die 33-langspeelplate. Die 78-plate was van ‘n harde stof gemaak en ʹn mens moes dit baie versigtig hanteer, anders kon dit maklik krap of selfs breek. Die 78’s het net een snit (liedjie) op gehad.

Ewenwel, die partytjie het begin en kort voor lank begin die musiek speel. En die manne en die vroue dans! Die plase is baie groot en die mense sien mekaar nie gereeld nie.

Maar o wee, hier teen tien-uur die aand val een van die manne op die stapel plate. (Hy was glo bietjie onvas op die voete.) En elke plaat breek, behalwe Jailhouse Rock van koning Elvis, en nog ‘n ander plaat. Groot, groot skade!

Maar boer se kind laat hom nie afsit nie: Die vertelling is dat die partytjiegangers net daar en dan besluit het om maar deur te dans dagbreek toe, soos wat vooraf besluit is:  Nét met koning Elvis wat Jailhouse Rock sing, en die ander plaat, vir afwisseling!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.