Spottenderwys vra iemand in watter maand kla boere die minste? Februarie, is die antwoord, want dit het nét 28 dae (vanjaar ʼn hele 29 dae).

As dit jou nie laat glimlag nie, trek jy seker baie stres?

Lees wat skryf mnr. Jacobus Hoffman van die Premier Varkprodusente-organisasie (PPP) in sy nuusbrief: Hy sê:

“Ons kla graag, maar ons help ook graag. Suid-Afrikaners is geneig om te kla en dikwels net die negatiewe kant van ‘n saak raak te sien. Lees maar die bitter boodskappe in die sosiale media en die briewekolomme in die dagblaaie. Natuurlik hét Suid-Afrikaners baie om oor te kla. Op die politieke front gaan sake allermins na wense en die ekonomie wankel op ‘n mespunt.

“Die rand is op ‘n aaklige plek en dit het vele negatiewe implikasies vir die ekonomie. Ons almal, boere inkluis, is in vir ‘n besondere ril-rit hierdie jaar.

“Tóg is ‘n mens verstom oor hoe maklik Suid-Afrikaners hulle harte oopmaak vir ander wanneer daar nood is. Die vele pogings om geld vir droogte-geteisterde boere in die samel en die skenkings van geld en voer en ander humanitêre hulp deur Jan Alleman raak jou aan die hart. Mense dink nie twee maal om te help nie,” aldus Jacobus.

Ek stem saam met Jacobus: Vir my is dit ook opvallend hoe ons op sosiale media kla: oOor feitlik alles. Gaan kyk maar op die Facebook-bladsye wat jy besoek. ‘n Goeie vriend van my praat van Vuisboek, maar dalk moet dit Klabook heet! (Kyk nou hoe kla ek nou!)

Genadiglik was Februarie maar kort van duur, dus kon mense minder kla! 

* Met erkenning aan die PPP-nuusbrief.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.