Tydens Argentinië se bekendstelling van sy landgenote se uitstallings op Nampo het me. Emilia Williams, skakelbestuurder van Expoagro in Buenos Aires, met ʼn treffende kwinksklag na vore gekom.

Die storie loop só: Verskeie Argentynse landboumaatskappye wat op Nampo was, doen ook proewe en natuurlik die bemarking van hul produkte in Suid-Afrika. Expoagro, wat seker dieselfde werk doer anderkant die water doen as wat Agri-Expo hier in veral die Wes-Kaap doen, het ʼn sterk verteenwoordiging op Nampo gehad.

Op die bekendstelling het Emilia elk van die Argentynse uitstallers ʼn paar minute spreektyd gegee om te sê wat hulle doen, en toe roep sy Stephen Krüger, ʼn graanboer van Viljoenskroon, nader. Stephen toets sekere Argentynse werkswyses van geenbewerking én werktuie op sy plaas. Hy sê toe Emilia het hom opdrag gegee om sy spiets met behulp van ‘n PowerPoint-aanbieding te doen. “Maar, ek het geweier.”

Daarna het Stephen vertel hoe hy ʼn pad saam met die Argentyne gestap het en hoe dit sy boerdery bevoordeel het. Toe lig hy sy keps daar voor al die gaste en sê; “Ek lig my lig hoed vir dié Argentyne – hulle het my gehelp om beter te boer, en hul woord is hul woord. Daarop kan jy staat maak.”

Toe hy na sy sitplek terugstap, sê Emilia: “Stephen, ons kan sien jy boer met jou hart, nie met PowerPoint nie.”

Vandag se boere moet sommer báie somme maak om die boeke te laat klop, maar Emilia se kwinkslag is iets waarmee baie mense die pyp mee kan stop: Vanaf minister Nkwinti tot die wysgeërige landboue-ekonome en agri-kommentators, en ja, ook ons landbou-joernaliste!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.